Pitkos:

Ons leef in ’n harde, ongenaakbare wêreld waar dit gaan om die oorlewing van die sterkstes en die heel bestes. Erkenning word gegee aan die wat uitstekende punte behaal, vinnig kan hardloop, presteer in ander sportsoorte en mooi en goed gebou is. Die gemiddelde kinders kry selde erkenning; inteendeel, hulle ervaar groter druk om te presteer omdat hulle so graag erkenning wil hê. Ons is almal "fools" vir erkenning! Oud en jonk!

Jy moet besef dat as jý nie vir jou kind erkenning gaan gee nie, gaan niemand nie. Die samelewing beloon nie pogings en deelname nie. Nee, slegs prestasie word beloon. Dit is genoeg om enige kind moedeloos te maak. Baie kinders ervaar dan ook druk van ouers om beter te presteer omdat die ouer se naam op die spel is.

Dit alles veroorsaak dat baie kinders doodgewoon vou en ’n swak selfbeeld ontwikkel. Jare later loop hulle nog met die gedagte in die kop: “Ek het dit nie gemaak nie” of: “Ek is nie goed genoeg nie.” Erkenning in die ouerhuis kan dit verander.

Kinders moet in hulle ouerhuise erkenning kry vir enige iets waaraan hulle deelneem of enige inisiatief wat hulle aan die dag lê. Wees oordadig met lof aan jou kind. Moenie net erkenning gee vir prestasie nie. Dink net weer hoe maklik kinders gekritiseer word en hoe selde hulle geseën word met aanmoediging en bemoediging. Negatiewe kommunikasie breek kinders se moraal en demotiveer hulle tot ’n punt van ophou-probeer.

’n Gebrek aan erkenning lei daartoe dat ’n kind verwerp voel. Verwerpingsgedrag lei tot verdere verwerping later in ’n jongmens se lewe en dit word ’n nare sirkel wat moeilik gebreek word.

Skrifgedeelte
Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê.
~ Spreuke 12:18 ~