Pitkos

Ek het onlangs weer redelik wyd en diep navorsing gedoen oor die nuutste tendense wat gesinne en ouerskap aanbetref. Daar is 'n verskeidenheid navorsings artikels met die tipiese: "The five things....." of "The twelve characteristics...." om uiteindelik by gesonde gesinne of gelukkige kinders uit te kom. Ek het vele van hulle aandagtig deur gelees en deur gewerk. Twee van die dinge wat pertinent uitstaan, is twee dinge wat maak dat ouers geneig is om te gou in te gryp en te probeer om hulle kinders te "red".
 
Een van die navorsers skryf so raak:

If you are always there to stop your child from making a mistake, they will rely on you forever. When I guard our kids too much, I create unnecessary fear in them.

 

Die eerste daarvan is dus die maak van foute. Kom ons wees eerlik: almal maak foute. Pa, ma, raak rustig oor die een - jou familie se reputasie of naam hang nie af van 'n kind wat 'n fout maak nie. Nee, inteendeel, 'n ou foutjie of twee kan 'n baie waardevolle leermeester in jou kind se lewe wees. Jy hoef nie in te gryp en te "red" nie. Wat die buurvrou of die maatjies se ouers gaan sê moet ook nie te veel weeg nie. 
 
Dit kan 'n waardevolle geleentheid vir groei in jou kind se lewe beteken. Jy kan doodrustig en kalm bly. Sien dit as 'n teachable moment. Sit rustig met jou kind, vra vrae in die grootste liefde en met die grootste opregtheid. Begelei jou kind rondom die lesse wat geleer is uit die fout. Die skoolgeld is betaal en jy wil nie hê jou kind moet dieselfde fout oor en oor maak nie. Om dit te voorkom, gaan jou tyd, fokus en aandag vra, want jou kind moet rustig en kalm begelei word.
 
Die foute wat baie ouers maak as kinders fouteer of dit lyk of hulle gaan fouteer, is (1) om op hulle neer te daal met raas of aggressie of (2) om in te gryp en hulle te probeer "red". 'n Waardevolle leer- en groeigeleentheid is sopas by die agterdeur uit. 'n Waardevolle moment van dieper vertroue tussen jou en jou kind is verlore. 
 
Iemand het eendag gesê: 

Let mistakes become your teachers.

 
Kom ons gun ons kinders die geleentheid om foute te maak. Nog belangriker, kom ons gun hulle die geleentheid om te leer uit hulle foute en in hulle menswees te groei.
 
Oor die tweede "red-jou-kind" gedagte skryf en gesels ek graag volgende keer met jou.