INLEIDING:

UNIVERSELE PROBLEEM

‘n Wanpersepsie word by die huis/gemeenskap geskep dat dit deel van die groot-word-proses is:

“Might is right.  It’s good to be able to dominate others.  To be dominated is shameful.  You should never complain about ill-treatment by others.  You should learn to take it”.

Uit bogenoemde word bullebakkery as aanvaarbare gedrag voorgehou.

BELEID:

Laerskool Roodekrans sal geen boelie-gedrag in enige vorm verdra nie en alle lede van die skool en gemeenskap is verbind tot die bevordering van ‘n veilige en beskermde omgewing.  Geen persoon het die reg om ‘n ander seer te maak by wyse van boelie gedrag nie.  Personeel, leerders en ouers sal saamwerk om hierdie gedrag teen te werk.  Elke kind het die reg tot ‘n veilige omgewing en om gerespekteer te word.

DEFINISIE VAN ‘N BOELIE:

‘n Boelie is daardie kind wat ander kinders en selfs volwassenes voortdurend terg, spot, verneder, byname gee, skinder, opsetlik vermy met die doel om seer te maak, verstoot, magsposisie misbruik, slaan, klap, skop, verkrag asook geweldadige optrede.  ‘n Boelie is voorts daardie kind wat ander se kos, lekkers en besittings vat, besittings verniel en beskadig, geld van ander steel, gerugte en stories oor maats versprei, maats dreig, intimideer en lasterlike en intimiderende SMS’e stuur. Dit kan met opset of onwetend gebeur:  individue of groepe kan betrokke wees.

‘n Boelie word dus gekenmerk deur die gebruik van fisiese sowel as verbale intimidasie, psigologiese- en sosiale teistering, uitsluiting en dreigemente.

Enige kind kan die teiken van ‘n boelie word.  Die slagoffer word gewoonlik uitgesonder as gevolg van psigologiese eienskappe en karaktertrekke eerder as fisiese voorkoms.  ‘n Tipiese slagoffer is geneig om meer skaam, sensitief, angstig en onseker voor te kom.  Sommige kinders word uitgesonder a.g.v. fisiese redes soos oorgewig, klein, liggaamlike gebrekke soos om ‘n bril te dra, ras of geloofsoortuigings.

Die gevolge daarvan kan aanleiding daartoe gee dat die slagoffer skoolgaan wil vermy en vrees en angs vir die skool ontwikkel.

VOORKOMINGSMAATREËLS:

As ‘n skoolgemeenskap sal alle gevalle waar boelie-gedrag geopenbaar word, gerapporteer word.

PERSONEEL SE VERANTWOORDELIKHEID:

  • Toesig hou tydens skoolaktiwiteite.
  • Betyds by klasse opdaag vir onderrig.
  • Navolgenswaardige gedrag binne en buite die klas openbaar.
  • Leerders inlig oor die verwagte standaard vir gedrag en die skool– en klasreëls aan leerders voorhou.
  • Oplettend wees vir enige tekens wat verband mag hou met boelie-gedrag.
  • Alle aangemelde insidente ondersoek.
  • Alle aangemelde insidente dokumenteer.
  • Slagoffers ondersteun en hulp verleen sodat die leerders nie weer blootgestel word aan boelie-gedrag nie.
  • Insidente van boelie-gedrag aan ouers rapporteer.
  • Die beleid jaarliks evalueer en hersien soos nodig.

LEERDERS SE VERANTWOORDELIKHEID:

  • Weier om betrokke te raak in enige gedrag/aktiwiteite wat geïdentifiseer word as boelie-gedrag.
  • Alle insidente of vermoedelike insidente van boelie-gedrag aan te meld.

OUERS EN VOOGDE SE VERANTWOORDELIKHEID:

  • Bewus wees van enige tekens van ongelukkigheid in hul kind wat verband mag hou dat die kind geboelie word.
  • Belangstel in en bewus wees van hul kind se sosiale lewe.
  • Die skool inlig indien daar vermoed word dat hul kind geboelie word.
  • Hulle weerhou daarvan om hul kind aan te moedig om vergeldend op te tree.
  • Waar hulle kind betrokke was by die boelie van ‘n ander leerder, teen hulle eie kind optree hetsy self of by wyse van die inroep van eksterne hulp.

OPTREDE TEEN BOELIES:

Die prosedure en strafmaatreëls soos vervat in die skool se dissiplinêre- en tugbeleid is ook in hierdie gevalle van toepassing.

Indien leerders se gedrag nie verbeter of verander nie, sal die volgende sanksies toegepas word:

  • Verwydering van die leerder uit die klas of groep.
  • Ontneming van pouses en ander voorregte.
  • Dissiplinêre verhoor.
  • Indien nodig sal hulp van buite ingeroep word.
  • Uitsetting uit skool.

Beleid hersien – November 2015