Pitkos: Ouerskap & Rooikappie

 

 

Dieet, ouderdom, swot is van die vele dinge wat nie vir sissies is nie, maar ouerskap vat die koek. Die ontdekking van die Rosettasteen in 1799 het sin uit hiërogliewe help maak, maar die ABC vir ouerskap is nog ’n ongeskrewe boek.

‘n Boek uit my kinderdae, wat my al dikwels van goeie raad bedien het as my eie kroos so deur die meule van die lewe gemaal word, was … Rooikappie. Ja, die liewe dogtertjie wat eerder na Wolf, as Mamma geluister het, het darem in die doodsnikke ‘n paar oomblikke van wysheid beleef.

Hoekom is jou oë tog so groot? Oë is die vensters van die siel. Kyk maar mooi na die blink in jou kind se oog. Blinkoog van vreugde of rooi en in skerwe van seer of dof van teleurstelling en lewensmoeg. Erger nog. Wat sien Boeta in my oë as hy nie die Top 10 gehaal het nie, of nie jou droom om ‘n aktuaris te word, wil najaag nie? Niemand is so blind soos hy wat nie sien nie.

Hoekom is jou ore tog so groot? Luister na jou kind. Maak tyd. Al moes ek gereeld ‘n paar brandbek jalapeno poppers afsluk of langsaam aan ‘n wit hot chocolate teug, was dit nog altyd elke rand werd om die wal soms net te laat breek en die seer en vrees aan ‘n pak goedkoop wit papierservette af te smeer. As ons kinders sonder vrees van veroordeling oor verkeerde keuses en teleurstellings kan praat, hoeveel te meer kan ons dan saam lag en bid en spanpraatjies hou namens Manchester United, die verlepte Proteas of die mak Cheetahs en self debatte voer oor kwessies van ons tyd.

Hoekom is jou hande so groot? Ouers kan nooit hul arms wyd genoeg oopmaak om hul kind aan die bors te druk nie. Onvoorwaardelike liefde gee jou kind die moed om die spreekwoordelike varkhok te verlaat en huis toe te gaan. Al hoe ek daarvoor toegerus word, is deur oor en oor die versekering van my Vader se liefde en vergifnis in sy Woord op te soek en op my knieë te bly. Ek kan net my kind dra, as die Herder my teen Sy bors dra.

Hoekom is jou mond so groot? ”Die tong het mag oor lewe en dood.” Spreuke 18:21. Dis eintlik vir my ʼn bietjie scary dié. Wat spreek ek oor my kinders? Hoe praat ek met hulle? Is dit selfoon teen die oor of met my oë vasgenael op ‘n skerm en ‘n kopknik of ‘n agter-die-hand: “Later…” wat eintlik maar “Nooit!” beteken nie? Die stemtoon wat ek gebruik wanneer ek met hulle praat. Ek moet jou eerlik sê … ek kry soms skaam. Ja, praat maar die waarheid. Kinders kan dit vat en weet as Ma en Pa die waarheid snaaks praat om hul gevoelens te wil spaar. Dit voel dalk vir hulle dat ons dink hulle is swakkelinge. Preke los ek maar vir die dominees, maar om die gevolge van keuses uit te wys en dit nie net summier te verdoem nie, laat hulle ook minder rebels volstaan by allerlei eksperimente en geite en giere wat soms hoogty vier.

Ja, jou kind moet die paadjies deur die bos aandurf, maar solank daardie mandjie propvol liefde, wat sy oorsprong by die Bron van liefde gekry het, gepak is, sien ek kans vir ouerskap. ekroon..