Die waarde en gevaar van mooi woorde

Benjamin West is ‘n bekende skilder.  Toe hy ‘n klein seuntjie was, het hy eendag verf gevat en ‘n prentjie van sy sussie begin skilder.  Sommer gou-gou was dit ‘n groot gemors.  Toe sy ma van die winkel af terugkom, het sy die skildery opgetel, Benjamin geprys en hom ‘n soen gegee.  Later in sy lewe het hy gesê: “Daardie soen het van my n skilder gemaak.  Een kompliment van sy ma, het hom laat glo dat hy baie talent het. 

Liewe ouers, ons sien sommer maklik ons kinders se foute raak.  Probeer ‘n bietjie die positiewe raaksien en komplimenteer jou kind.  Hulle smag daarna en jy sal sien hoe dit hulle laat blom.

As onderwyseres sien ek dikwels hoeveel waarde ‘n kompliment het vir ‘n kind. As ek sien hoe goed hulle voel na ‘n kompliment, voel ek sleg dat ek nie meer intensioneel daarop konsentreer nie. 

Dit is veral belangrik om mooi karaktereienskappe uit te lig: Dit maak my so bly dat jy so hulpvaardig is by die huis.  Ek was so trots toe ek sien hoe jy vandag vir jou maatjie opgekom het.

As ‘n mens te veel komplimente gee vir prestasies, kan dit dalk die gevaar inhou dat die kind verwaand raak.  Wens jou kind geluk wat goed presteer, maar moenie toelaat dat die kind dink dit is al wat belangrik is nie. Plaas altyd klem op positiewe karaktereienskappe. 

Soms is jy so kwaad vir daardie moeilike tiener, dat jy beslis nie aan iets moois kan dink om te sê nie.  Soek dan iets en vra vir die Here om jou iets moois te laat raaksien.  Dalk is jou dogter, wat deure klap, se kamer netjies of sy help fluks in die kombuis.  Terwyl jy die negatiewe aanspreek, maak seker dat jy die positiewe ook raaksien.

Soms sien ek dat ouers die heuningkwas te kwistig gebruik.  Daardie kind wat altyd net hoor hoe slim, mooi, oulike en fluks is, moet ook soms aangespreek word.  Soos met alles in die lewe, is balans nodig. 

‘n Mooi woord, is nie altyd ‘n kompliment nie.  Soms is dit ‘n woord van aanmoediging of bemoediging.  ‘n Kind wat gereeld mooi woorde hoor en ook soms tereggewys word as hulle verkeerd optree, sal geborge voel en ‘n gesonde selfbeeld hê.

In Spreuke 12:18 lees ons: Daar is mense wat dinge sal sê wat seermaak.  ‘n Wyse mens se woorde bring eerder genesing. Liewe ouers, jou woorde het baie mag in jou kind se lewe, vra die Here om jou wysheid te gee.